John Constable

John Constable

Portret van John Constable deur Daniel Gardner in 1796
Gebore (1776-06-11)11 Junie 1776
East Bergholt, Suffolk, Oos-Anglia, Engeland
Sterf 31 Maart 1837 (op 60)
Hampstead, Londen, Engeland
Nasionaliteit Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Veld Landskapskilderye
Beweging Romantiek
Werke Dedham Vale (1802)
The Hay Wain (1821)
Selfportret 1806, potlood op papier, Tategalery, Londen. Constable het hierdie profiel geskets, sy enigste onbetwisde selfportret, deur die opstel van spieëls.[1]
Dedham Vale (1802)
Olie op doek, Victoria en Albert-museum, Londen
The Hay Wain (1821)
Olie op doek, Nasionale Galery, Londen

John Constable [ˈkʌnstəbəl, ˈkɒn-] (* 11 Junie 1776, † 31 Maart 1837) was 'n Engelse Romantiese skilder wat veral bekendheid verwerf het met sy landskapskilderye van Dedham Vale in die omgewing van sy geboorteplek East Bergholt in die graafskap Suffolk - 'n streek wat tans as Constable Country bekendstaan. Constable het 'n rewolusie in die waterverfskilderkuns meegebring deur die manier waarop hy die weer, lug en atmosfeer uitgebeeld het. Hy was 'n voorloper van impressionisme en word saam met J.M.W. Turner aangeskryf as die een van die grootste Britse landskapskilders.

Dit was die groot toewyding waarmee hy die landskapstonele van sy geboortestreek op doek verewig het wat Constable se kunswerke so bekoorlik maak. "Ek dink ek moet my eie plekke op die beste manier skilder", het hy in 1821 aan sy vriend John Fisher geskryf, "skilder is niks meer as 'n ander woord vir gevoelens nie."

Constable se bekendste skilderye sluit Dedham Vale (1802) en The Way Hain (1821) in. Alhoewel sy skilderye tans onder die gewildste en kosbaarste Britse kunswerke gereken word, kon Constable in sy leeftyd min finansiële voordeel daaruit trek. Eers in die ouderdom van 52, toe hy as lid van die Koninklike Akademie (Royal Academy) verkies is, is sy reputasie as vooraanstaande skilder gevestig. Daarenteen is sy werk in Frankryk besonder gunstig ontvang. Hier kon hy meer van sy werke verkoop as in sy geboorteland en het bowendien die inspirasie vir 'n hele kunsstroming gelewer, die Barbizon-skool.

  1. Parris, Fleming-Williams & Shields 1976, pp. 59–60

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search